
Raadslid in hof na amok
WOEDENDE inwoners van KwaNomzamu op Humansdorp eis die kop van hul ANC raadslid, Phumzile Oliphant, na ‘n onderonsie op sy erf waarby ‘n sambok betrokke was.
Volgens Oliphant het hy gaan ondersoek instel toe die alarm van sy motor, wat op sy erf geparkeer was skuins na middernag verlede Saterdag afgegaan het. Sy buurman het twee jong mans aan hom uitgewys wat hy uit Oliphant se erf sien hardloop het.
Oliphant sê hy het hulle gekonfronteer toe hy sien sy motor se deur is oop.
‘n Derde jong man het hom by hulle aangesluit wat volgens Oliphant baie beledigend geraak het. Hy het sy seun gestuur om sy sambok te gaan haal.
“Ek was op die punt om hom te voeter omdat hy so ongelooflik beledigend was, maar my vrou het tussenbeide getree en my verhoed,” het ‘n baie onstelde Oliphant gesê.
Hy het toe hulle ouers gekontak en ingelig oor die voorval.
Die jong mans vertel egter ‘n ander storie. Hulle sê Oliphant het een van hulle bygedam en sy seuns het die drie per motor agtervolg tot in die volgende straat waar daar handgemeen geraak is. Een van die jong mans sê hy is so erg aangerand dat sy ma hom na ‘n dokter moes neem. Van die inwoners beweer nou dat die Oliphant-seuns huise se deure afgeskop het terwyl hulle die mans gesoek het. Ander sê weer Oliphant moet afgedank word as raadslid omdat hy in sy posisie ‘n voorbeeld hoort te wees vir die gemeenskap, en nie so behoort op te tree nie.
Oliphant sê dit is alles infame leuens wat mense wat hom beny, gefabriseer het.
‘n Vooraanstaande sakevrou van die dorp en ‘n polisie superintendent se kinders is onder meer betrokke by drie sake van aanranding teen Oliphant.
Hy het self ‘n klagte van naamskending en een vir die onwettige betreding by die polisie ingedien.
Die Oliphants het Maandagoggend in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot 1 Maart.
Oliphant is in Oktober verlede jaar as ANC raadslid verkies na Sam Swepo se dood.
CINDY LIEBENBERG








