
Vissermanne word baie hard geslaan
VISSERMANNE is ontevrede oor die voorgestelde verhoogte tariewe wat onder bespreking is. ‘n Verhoging van tot meer as 500% in permitfooie is op 29 Januarie in die Staatskoerant aangekondig.
Die Departement van Mariene en Kusbestuur het bevestig dat dié verhogings van die duisende hengelaars wat hengel as stokperdjie beoefen, vir hulle meer geld gaan inbring. Dié geld is volgens hulle nodig om die kusgebied te patrolleer en bewaring toe te pas.
‘n Kennisgewing was in die staatskoerant op 29 Januarie gepubliseer waarin die minister van Water en Omgewingsake tyd gee vir besware tot 4nm op 1 Maart rakende die heffings.
Die voorgestelde tariewe styg so: hengellisensie van R62 na R200; uitreiking van permitte - tariewe van R79 na R300 vir die volgende: spieshengel; gebruik van gooinette; Ooskus-rotskreef; weekdiere (seekatte, inkvis, wurms, ander ongewerwelde diere en seeplante); modderkrappe; Mariene akwarium visse; bykomende koste per boot (betaal deur skipper) van R79 na R500. ‘n Permit is vir ‘n jaar geldig. In daardie konteks is die tariewe redelik, maar as na die persentasie gekyk word waarmee die tariewe verhoog word, is dit buitensporig.
Hierdie verhoogde tariewe gaan vir plaaslike vissermanne wat van hulle vangste afhanklik is om kos op die tafel te sit, hard slaan. Vir die meeste sal hierdie verhoogde tariewe nie bekostigbaar wees nie.
John Raubenheimer, voorsitter van die OP Diepsee Hengelklub en ook voorsitter van die Jeffreysbaai Ski-Bootklub, se kommentaar oor die voorgestelde tariewe is: “Die departement sê die fooie gaan aangewend word om beheer toe te pas. Beter beheer is goed, maar die manier hoe dit toegepas word is nie goed nie. Om lisensiegeld te betaal is goed. Die department was nog altyd gefinansier, wat het verkeerd gegaan dat hulle permitte met 500% wil verhoog?”








